Ek is in Parys in die Vrystaat gebore, en het van kleins af ’n liefde gehad vir lees. Ek het die kinderboeke wat ek by die biblioteek uitgeneem het soveel keer gelees dat ek hulle uit my kop geken het teen die tyd dat hulle moes teruggaan. Op agt of nege het ek al geweet ek wil eendag self skryf.
Nadat ek film- en videotegnologie gestudeer het, het ek vir omtrent tien jaar in die filmbedryf gewerk, aan ’n rolprent en TV-reeks of twee, en verskeie korporatiewe video’s.
Ek was vir nege jaar in die buiteland en het in vyf lande gewoon, onder andere Singapoer, Maleisië, en Dubai (VAE).
Vir ongeveer vier jaar het ek webontwerp, SEO en aanlyn bemarking gedoen, en daarna het ek aanlyn begin klasgee in Engels.
Ek is passievol oor reis, die buitelewe, kos, honde en stories. Verkieslik sommer almal saam!
Tans woon ek in Gordonsbaai in die Wes-Kaap, waar ek kos van baie lande kook, skryf, boekgesprekke hou en stories uitdink. Ek swem graag in die see, en hou van watersport en om my kajak te roei. Om met honde op die strand te stap, of iewers langs ’n rivier te kamp is altyd ’n vreugde. Die see en die natuur hou my kop reg. Soort van. Ek dink daaraan om ’n kostrok oop te maak.
Oor en weer, wat ek saam met Trisa Hugo geskryf het, was op die kortlys vir ’n ATKV-Woordveertjie, saam met Kanaän van Sophia Kapp en Corali van Chanette Paul.
My ander boek, Kleur en karamel, was die eerste lesbiese Romanza in Afrikaans. (Let wel, nie romanse nie.)
Oor en weer:
https://www.graffitiboeke.co.za/af/373246/Boeke
Kleur en karamel:
https://www.graffitiboeke.co.za/af/382956/Boeke
Bemarkingskakels:
https://www.youtube.com/channel/UCNCOVd2CyVUZMrRaBNB0o3A
https://www.youtube.com/watch?v=FPTW2C-bNe0&t=23s
https://www.youtube.com/watch?v=ie8_ZOX3ITI&t=484s
https://www.youtube.com/watch?v=eT62xhUER5o
https://www.youtube.com/watch?v=yCxv-aA6SGU&t=19s