Elsa is op Upington gebore en het aan die Hoërskool Upington matrikuleer. Daarna het sy by die destydse Onderwysersopleidingskollege in Wellington studeer om laerskoolonderwyser te word. Op veertig het sy weer begin studeer, ’n BA met Engels en Kommunikasiekunde as hoofvakke deur Unisa voltooi, en later ’n honneursgraad (cum laude) in Engels en ’n MPhil (cum laude) in Dokumentanalise en -ontwerp aan die Universiteit Stellenbosch behaal.
Sedert 2010 skryf sy voltyds. Sy het reeds 58 boeke publiseer, waarvan twaalf in Engels is. Tien kortverhale het in tydskrifte verskyn, vier kortverhale is opgeneem in bundels en daar is ook twee stories wat in ’n skoolbundel opgeneem is.
Haar werk het by verskeie uitgewers verskyn, soos Lapa, NB Uitgewers en Protea Boekhuis. In 2010 het sy ’n ATKV-Woordveertjie ontvang vir Tussen jazz en rock (Lapa), en daarna nog drie vir Te eenders, te anders (2014) en Liefde in laslap (2016) wat by NB (Satyn) verskyn het en Blameer die skoenlapper (2019) wat deur Lapa uitgegee is. Ses van haar ander boeke is ook al benoem vir Woordveertjies.
Haar stories is ook al in sewe omnibusse opgeneem. Die mees onlangse is Eerste keur in 2018 by NB (Satyn), Liefde vind ’n pad in 2019 by Lapa en In die skadu van Paarlberg in 2020 by Protea Boekhuis.
Twee kinderboeke, Wanneer is eendag? (2018) en Husse met lang ore (2023), het by Protea Boekhuis verskyn.