Helene de Kock het as NG predikantsdogter aan die Rand grootgeword, aan die Universiteite van Pretoria en Noordwes studeer, en aan verskeie konservatoria onderrig in klassieke sang ontvang. Sy het dekades lank as solis opgetree.
Vir haar meestersgraad in Skeppende Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit in 2008 het sy die toekenning as beste MA-student ontvang. Die roman, Dieper water, was deel van die tesis. In 2014 het sy ’n PhD in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Dié doktorale proefskrif handel oor die skep van ruimtelike dinamika in ’n roman.
Sy skryf in verskillende genres. ’n Wetenskaplike artikel oor die skep van werklikheidsbeeld het in die tydskrif, Literator, verskyn en ander meer populêr wetenskaplike artikels is in lesings deur die Noordwes-Universiteit saamgevat. In die tagtigerjare was sy waarnemende redakteur van die Oos-Vrystaatse streekskoerant Vrystaat. Helene het lank ’n rubriek in Beeld behartig waarin sy op ’n gereelde basis romans en ander prosawerke geresenseer het. Romans, asook ’n skryfhandleiding, is in Literator, geresenseer. Vir LitNet resenseer sy ook soms romans en tree as keurder op vir akademiese artikels.
Daar het reeds meer as 40 romans uit haar pen verskyn, verskeie novelles en vervolgverhale in tydskrifte, kortverhale wat in bundels opgeneem is, asook kinderboeke. Haar eerste kortverhaal het in 1962 in Huisgenoot verskyn. In 1978 het haar debuutroman Die soete dwaling verskyn en in 1980 word die bundel Ruitjiesvenster gepubliseer met ’n keur uit haar kortverhale. In 1988 was sy die naaswenner in rooi rose se kortverhaalwedstryd met ’n Laaste maal en sy wen die derde prys in Sarie en Ou Mutual se kortverhaalwedstryd in 1999 met Net nog ’n maal. Kortverhale van haar word onder andere opgeneem in die bundels Dit kom van ver af, Kruis en dwars en Grensoorlogstories, en Kleure van die liefde, saamgestel deur onderskeidelik T.T. Cloete, Jeanette Ferreira en Corlia Fourie, en ook in die bundels Bittersoet sewe, Huisgenoot-trefferverhale, Liefde natuurlik en Hartlam.
Die romans Somersneeu, Debora gaan huis toe en Die kind uit die wingerd was finaliste vir ATKV-Woordveertjies en die roman Elisabet se oorlog is in 2022 as wenner aangewys van die ATKV-Woordveertjie vir liefdesromans. Haar nuutste roman, Diana se dag, het in Junie 2023 verskyn. Almal is deur Human & Rousseau uitgegee.
Helene is lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en skryf steeds voltyds. Sy is getroud met dr. Jos de Kock en woon in Midstream. Hulle het drie kinders: Jaco, Herman en Sylvia. Helene se boek As dood Lewe word (CUM-boeke) is ná Jaco se dood geskryf.