Malene Breytenbach (1948-) het tot ouderdom veertien in Gweru, Zimbabwe, gewoon. Sy was in die skole Cecil John Rhodes Primary en Chaplin High School. Daarna het sy na Pretoria verhuis en aan Afrikaanse Hoër Meisieskool gematrikuleer. Aan die Universiteit van Pretoria het sy die grade BA (met hoofvakke Engels en Frans) en BA(Hons) (Engels) behaal. Sy het as vertaler gewerk en is ook as beëdigde vertaler ingesweer. Sy en haar gesin het in 1985 na Stellenbosch verhuis waar sy aan Stellenbosch Universiteit die grade Hons, magister en DPhil in Joernalistiek, magister in Ou Nabye Oosterse Studie en MPhil in Antieke Studie behaal het. Sedert sy in Stellenbosch gaan woon het, het sy by die Universiteit, eers in Openbare Betrekkinge, vervolgens Kommunikasie en Stellenbosch Stigting gewerk. Tans skryf sy voltyds en skilder sy nou en dan.
Haar eerste romanse, Palmyra herleef, is in 2005 deur LAPA Uitgewers gepubliseer. Daarna het sy tien romans geskryf en meer as vyftig van haar romanses (kontemporêr, medies, histories, Romanza en Superromanza) is tot dusver deur LAPA Uitgewers en NB Uitgewers gepubliseer. Twee romanses is onder die skuilnaam Marilyn Bennett gepubliseer. Sy het ook kortverhale tot bundels soos Bloots, Skarlakenkoors, Skrik op die lyf, Hartlam, Lyfskap en Vrydagaand bygedra en skryf gereeld kortverhale in tydskrifte.
Web:
https://www.malenebreytenbach.co.za/
Sosiale media:
https://www.facebook.com/malene.breytenbach